Michiel Heyns en Hannes van Zyl gesels by die bekendstelling van JM Coetzee: ’n Geskryfde lewe

Ongeveer drie jaar voor sy ontydige dood in Desember 2011 het die literêre biograaf JC Kannemeyer ‘n lys van ses moontlike projekte gehad waaraan hy volgende kon werk. Tog het hy gesukkel om op een te besluit.
Tydens ‘n ete saam met oud-uitgewer Hannes van Zyl het Kannemeyer sy idees uiteengesit. Van Zyl het egter ‘n heel ander projek, naamlik ‘n biografie van die Suid-Afrikaanse Nobelpryswenner JM Coetzee voorgestel.
Al het Kannemeyer deur die jare al Coetzee se werke gelees, was hy nog altyd meer op Afrikaanse literatuur ingestel, en is dít waarskynlik waarom hy nie vroeër ‘n biografie van Coetzee oorweeg het nie. Nadat Van Zyl dit voorgestel het, het Kannmeyer die projek egter met altwee hande aangegryp. Al het niemand dit toe geweet nie, sou dié projek sy laaste, maar ook, volgens kenners, die gróótste van sy lewe wees.
“As jy luister na die internasionale rsensente is dit merkwaardig wat Kannemeyer in slegs drie jaar reggekry het,” het Van Zyl, wat die boek se redigering behartig het, Saterdag by die bekendstelling van JM Coetzee: ‘n Geskryfde lewe (JM Coetzee: A Life in Writing in Engels) by Protea Boekwinkel op Stellenbosch gesê. Coetzee se lewe en werk het volgens Van Zyl soveel dimensies en is so verwikkeld dat dit ‘n reuse taak is om ‘n biografie van dié man saam te stel. Kannemeyer het dit in 750 bladsye gedoen. “Na dié boek het Kannemeyer self gesê dat alles anders kinderspeletjies was in vergelyking daarmee.”
Van Zyl het in gesprek met die boek se vertaler, Michiel Heyns, gesê dat Kannemeyer deur die bemiddeling van historikus Hermann Giliomee met Coetzee in Adelaide kontak gemaak het en toestemming gekry het om die boek te skryf. Coetzee het ook ingestem tot onderhoude met Kannemeyer.
Van Zyl het vertel dat Kannemeyer hom kon vereenselwig met Coetzee se hardwerkendheid, sy komplekse verhouding met sy kinders en die tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis waarin Coetzee grootgeword het. “Coetzee het op Worcester grootgeword en Kannemeyer op Robertson en in ouderdom was hulle net een jaar uitmekaar.”
Kannemeyer se begrip vir Coetzee se agtergrond was waarskynlik die rede waarom Coetzee ingestem het tot die biografie, meen Van Zyl. “Coetzee kom uit ‘n groot, oorwegend Afrikaanse familie. Sy Afrikaanse en Suid-Afrikaanse agtergrond is ‘n groot deel van wie hy is en Kannemeyer het dit verstaan.”
Coetzee het glo ook aan Giliomee gesê dat hy die skryf van die biografie goedgekeur het omdat Kannemeyer bekend was vir sy getrouheid aan feite. Volgens Van Zyl sou Coetzee ook nie ‘n biograaf wil hê wat “spekuleer oor sy sielkunde” nie. Dis iets waarteen Kannemeyer gekant was.
Kannemeyer het in sy biografieë gefokus op die sosio-politieke situasie waarin ‘n skrywer gewoon en gewerk het en die moeilikhede wat die skrywer moes oorkom. Trouens, Giliomee het al voorheen gesê dat wanneer Kannemeyer se biografiee van Louis Lepoldt, Etienne le Roux, Jan Rabie en JM Coetzee saam gelees word, dit ‘n geheelbeeld skep van die geskiedenis van die skrywersgemeenskap in Suid-Afrika en die evolusie van Afrikaner-identiteit.
“JM Coetzee: ‘n Geskryfde lewe sal ‘n unieke biografie van Coetzee bly, omdat Kannemeyer dit met ‘n bepaalde agtergrond geskryf het,” het Van Zyl gesê. “Maak nie saak hoeveel internasionale biografieë van hom verskyn nie.”
Carolyn Meads het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:
Foto: Michiel Heys, vertaler v JM Coetzee: A Life in Writing, tree in gesprek met redigeerder Hannes v Zyl #livebooks twitter.com/carolynmeads/s…
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Heyns:Interessant op hoe ‘n vroee onderdom Coetzee geweet het hy gaan groot skrywer wees. Argief voorberei sedert 1ste manuskrip #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Heyns: Coetzee het redigerings, wysigings v sy skryfwerk gedokumenteer. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Van Zyl: Coetzee het baie hard gewerk. Vroeg opgestaan elke dag geskryf #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Van Zyl: Kannemeyer nes Coetzee baie hard gewerk.4h begin werk.Groot versamelaar v feite. Hou daarvan om foute uit te wys #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Heyns: As ek vertaal probeer ek getrou bly aan skrywers se styl. Kannemeyer se styl was eksentriek, gehou van inversie. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Heyns: Ek moes dikwels dinge rondswaai. Ongemaklike huwelik tussen gemaklike Engels & Kannemeyer se styl #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Kannemeyer het geparafraseer uit Boyhood ens. Heyns kon nie in Engels vertaal. Sou klink soos swak Coetzee. Aanhalings gebruik #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Van Zyl: Baie bewus van verskil tussen Kannemeyer se uitgesponne skryfwerk & Coetzee se gestroopte styl. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Van Zyl: Vermoed daar kom ‘n tyd wanneer ‘n skrywer dink ‘nou kan ek maar, nou moet ek maar’ ‘n biografie laat skryf #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Coetzee het glo aan Giliomee gese dat Kannemeyer bekend is vir sy feitelikheid. Ook Kannemeyer kom uit selde omgewing, tyd #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Heyns: Kannemeyer het gevoel daar was sekere miskonsepsies oor Coetzee bv dat hy ‘n kil mens is. Probeer dit verander. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Van Zyl: As jy Coetzee se boeke lees nadat jy die biografie gelees het, sal jy ‘n heel ander persepsie daarvan he #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) November 24, 2012
Facebook-galery
Boekbesonderhede
- JM Coetzee: ‘n Geskryfde lewe deur JC Kannemeyer
Boek se tuisblad
EAN: 9781868424962
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- JM Coetzee: A Life in Writing deur JC Kannemeyer
Boek se tuisblad
EAN: 9781868424955
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
















Please register or log in to comment